Share This Post

Hoe ek (in matigheid) tegnologie in my Afrikaans EAT-klas gebruik

Hoe ek (in matigheid) tegnologie in my Afrikaans EAT-klas gebruik

Ek was nog altyd mal daaroor om tegnologie in my klas te gebruik, maar deesdae is ek bietjie meer huiwerig. Omdat ek so min tyd in ‘n week het, gebruik ek dit minder (lees meer hier oor hoe my klas nou verloop) en beplan dit baie meer deeglik.

Op die oomblik gebruik ek tegnologie op 3 maniere

  1. Vir inoefening en (deesdae ‘n vloekwoord) driloefeninge
  2. Motivering (om klaspunte te gee) en pret
  3. Om almal se stemme te kan hoor

Kom ons begin by die vloekwoord, driloefeninge

Die beweging van selfgedreweleer, dat die onderwyser meer ‘n fasiliteerder moet wees en dat ons hoërorde-denke moet ontwikkel en bevorder werk nie altyd so lekker in Afrikaans EAT nie. Ons kan nie verwag dat kinders (in Afrikaans) die wêreld se probleme moet oplos indien hulle nie eers weet hoe om ‘n koherente sin aanmekaar te slaan nie.

Dus is driloefeninge baie belangrik. Ek geniet Quizlet die meeste hiervoor.

Ek het al van te vore oor Quizlet geskryf (lees hier en kyk die video oor hoe jy dit gebruik) en gebruik dit nog steeds na al die jare. Quizlet laat jou toe om digitale flitskaarte te maak. Daar is duisende woordeskatlyste wat reeds opgestel is, wat jy net kan verander vir jou klas. Jy kan dit ook gebruik om taalreëls in te oefen, bv. meervoude en verkleinwoorde.

Hoe kan jy dit gebruik?

  • Aan die begin van die les, gebruik die woordeskatkaartjies om nuwe woordekskat aan die kinders bekend te stel.
  • Die Quizlet-live opsie is soos Kahoot!, maar in spanne. Kinders gaan na die webtuiste, sleutel die kode in, word dan in spanne geplaas en moet die korrekte antwoord op een van die toestelle (skerms) in die groep kies. Die groep wat eerste 12 korrek kry, wen!
  • Kinders kan ook inteken op die Quizlet-webtuiste en verskillende maniere van inoefening gebruik. Die “match” speletjie is pret vir beginners en die “gravity” speletjie is baie pret en kinders kry punte vir hoe vinnig hulle die korrekte antwoord kan intik.
  • Indien jy al van Gimkit gehoor het, kan jy dit ook gebruik. Dis maklik om woordeskatlyste van Quizlet af te laai en op Gimkit te gebruik. Op Gimkit maak kinders “geld” deur die korrekte antwoorde in te tik.

Motivering (om klaspunte te gee) en pret

Ons kinders is opgedeel in groepe en hulle kry “rypunte” of “groepspunte” en word dan aan die einde van die kwartaal daarvoor beloon. Dis lekker om speletjies met hulle te speel en hulle kry dan ook ‘n geleentheid om ekstra punte te verdien. By die onlangse EdTechTeam Summit het ek ‘n fantastiese program ontdek – Flippity.

Jy het nie 1-1 toestelle, selfone of rekenaars in jou klas nodig om dit te gebruik of daarmee te speel nie. 

Met Flippity, kan jy verskillende funksies gebruik:

Ek gaan nou nie in detail gaan nie, maar elke groep kies ‘n opsie en kan dan die hoeveelheid punte verdien wat die vraag werd is. Verkleinwoorde vir 500 punte! Gee die verkleinwoord van arm. Armpie! Korrek. 500 punte vir groep 1! Pret.

Dis hoe die blad lyk:

Om almal se stemme te kan hoor

Nog iets wat ek eers onlangs ontdek het is Flipgrid. Flipgrid is ‘n sosiale-leerplatform waarop onderwysers ‘n vraag vra en iemand dit dan beantwoord met ‘n video-respons. Ek gebruik dit veral vir inoefening en hardoplees. Kinders kan ook vrae verbaal beantwoord. Kinders kan dan ook ‘n video-respons stuur vir die video’s wat opgelaai is. My kollegas by een van ons ander skole het dit ook gebruik om dialoë op te neem – baie pret!

Jy kan ook hier bo sien dat die kinders dit al vir 4.5 uur gekyk het – dit beteken dat hulle ook na mekaar se video’s gekyk het. Dis nie publiek nie en dis veilig om te gebruik.

Leer meer oor Flipgrid hier (ongelukkig het ek nie ‘n voorbeeld van my kinders nie, ek moet eers toestemming vra!)

Nog pret

Ons hou van sing en om te help met die lirieke van video’s op YouTube, het ek begin “musiekvideo’s” maak op Google Slides. Die kinders is mal daaroor en ons sing lekker saam.

Hier is ‘n voorbeeld: “Groente” deur Besterklub.

Google Classroom is ook handig. Ek plaas ook liedjies, woordeskatlyste en stories daar wat kinders kan luister en leer.

Watter tegnologie gebruik julle?

LEES VERDER:

Aangevulde realiteit (AR)

Wenke om die sprong van hoërskool na laerskool te oorleef

ClassDojo: Effektiewe kommunikasie met ouers

Voordele van tegnologie in die klaskamer

KLIEK: ‘n Vars manier om Afrikaans EAT aan te bied

Tablette in skole – die voordele en nadele

Idees om woordeskat te bou

Adverteer poste / soek jou droompos!

Verkoop jou oorspronklike hulpmiddels en maak ekstra geld

Share This Post

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.