Share This Post

ClassDojo: Effektiewe kommunikasie met ouers

ClassDojo: Effektiewe kommunikasie met ouers

Kommunikasie is ongelooflik belangrik tussen onderwysers en ouers, maar dit is ook ‘n baie moeilike proses om reg te kry. ‘n Mens moet probeer om ‘n balans tussen té veel en té min kommunikasie te kry, en, alhoewel dit baie belangrik is om ‘n proffessionele verhouding met ouers te handhaaf, is dit heerlik om oulike oomblikke met ouers te kan deel. 

Dit is natuurlik moontlik om slegs per e-pos met ouers te kommunikeer en dit is heeltemal doenbaar in ‘n hoërskool, maar in die laerskool is die ouers ‘n bietjie meer betrokke en het meer leiding van onderwysers nodig. Dit vat ook tyd en moeite om al die ouers se e-posadresse te laai en om groepe te skep om boodskappe vir ‘n hele klas te stuur. Ek glo wel dat formele kommunikasie steeds deur die skool gestuur moet word aan ouers en indien dit ‘n meer formele onderwerp is, dat onderwysers eerder deur middel van e-pos moet kommunikeer. Hierdie artikel is meer gerig op die informele kommunikasie tussen onderwysers en ouers.

Een van die maklikste maniere om te kommunikeer is sommer Whatsapp groepe vir klasse. Die probleem wat onstaan hiermee, is dat al die ouers dan mekaar en jou selfoonnommers het wat kan veroorsaak dat jy in die lokval kan trap waar ouers met mekaar kommunikeer oor probleme in plaas van met jou en dat hulle jou enige tyd van die dag of nag kan kontak. Ouers sien ook mekaar se boodskappe – wat nie noodwendig sleg is nie – maar dit is gewoonlik makliker om ‘n probleem privaat met ‘n ouer op te los in plaas daarvan om dit aan die hele klas se ouers bloot te stel en die probleem dan baie groter maak as wat nodig is. 

Daar is heelwat toeps beskikbaar om te help met kommunikasie tussen ouers en onderwysers. Voordat jy ‘n toep aflaai, is dit belangrik om seker te maak dat dit op beide Android en Apple-toestelle gebruik kan word. Dit is ook ‘n goeie idee om as ‘n skool te besluit op ‘n toep, dat al die klasse dieselfde toep gebruik. Dit maak die kommunikasieproses nog makliker. My gunstelling toep vir kommunikasie is verseker ClassDojo. Hier is die belangrikste dinge om van die toep te weet.

Een van die eerste en belangrikste eienskappe: Dit is gratis. Daar is goed wat jy kan aankoop in die toep, soos “teacher resources”, maar persoonlik het ek nog nie ‘n sent op die toep spandeer nie.

Die tweede eienskap wat hierdie toep baie aanloklik maak, is dat dit verskriklik maklik is om dit op te stel. Jy teken in as ‘n onderwyser, skep jou klas met elke leerling se naam. As jou klas meer as een onderwyser het, laai jy al die onderwysers op. Daarna nooi jy die ouers. Jy het twee keuses, jy kan die ouers se e-posadresse intik, of jy kan die ouers nooi met “print outs”. Dit stuur dan ‘n PDF-file na jou e-pos wat jy dan kan uitdruk en vir ouers stuur. Jy kan natuurlik ook dit vir die ouers e-pos. Op hierdie dokument verduidelik dit presies vir die ouers stap-vir-stap hoe om aan te sluit. 

Die leerders kan ook die toep kry as hulle slimfone het. Die ouers sal nie met mekaar kan kommunikeer nie. Hulle kan ook geen plasings maak nie, slegs die onderwysers het die magtiging om goed te plaas. Die ouers vul hulle eie name in en meer as een ouer kan aansluit. Dit is veral nuttig wanneer ouers geskei is. Die toep gee dus vir ouers die moontlikheid om te sien wat alles in die klas aangaan en hulle kan jou persoonlike boodskappe stuur sonder dat hulle toegang het tot jou selfoonnommer. 

Die laaste eienskap voordat ons kyk na presies wat met die toep gedoen kan word, is die verstellings wat jy aan die toep kan maak om by jou skedule in te pas. Onder die “Account Settings” skakel kan jy jou persoonlike besonderhede verander. Onder “Notifications” kan jy die ure gaan instel wanneer jy nie enige kennisgewing op jou selfoon kry nie. Ouers kan steeds boodskappe stuur in hierdie tye, maar hulle sal sien dat dit in die “Quiet hours” is en dat jy nie die boodskap sal ontvang tot hierdie Stil-tyd verby is nie. Jy het ook die opsie om geen boodskappe oor naweke te ontvang nie. 

Volgende kan jy ook besluit of jy wil hê ouers moet kommentaar kan lewer op jou plasings. Indien jy hierdie opsie wil afskakel, sal hulle steeds op jou plasings kan klik en net ‘n persoonlike boodskap vir jou stuur in plaas van kommentaar wat vir almal sigbaar is. 

Jy kan ook op jou rekenaar op die internet inteken op die webtuiste om van daar af met ouers te kan kommunikeer. Die opsie om op die rekenaar in te teken, bied jou ook die geleentheid om dit wat op die toep is op die projektor in jou klaskamer te wys. Jy kan baie meer met ClassDojo doen as om net met ouers te kommunikeer. Dit het vier skakels: Classroom, Toolkit, Class Story en Messages. Hier is ‘n kortlikse beskrywing van elkeen. 

In Classroom sal jy al die leerders kan sien.

Hier hoof doel om vir leerders “punte” te gee. Indien jy op ‘n leerling klik, kan jy punte gee vir harde werk of deelname, ensovoorts. Jy kan ook self goed byvoeg waarvoor jy punte kan gee. Hier kan jy ook aan- of afwesigheid aanteken.

Die “Toolkit” is die volgende eienskap. Hier is ‘n paar goed wat jy kan doen:

  1. Daar is ‘n “timer” opsie vir al daardie takies wat jy vinnig gedoen wil hê. Hierdie werk veral goed as jy vir hulle ‘n blokkiesraaisel gee en ‘n kompetisie skep.
  2. Daar is ook ‘n opsie wat die leerders in ‘n lukrake volgorde opdeel. Hierdie opsie is baie handig wanneer jy nie net op die klaslys wil afgaan vir iets soos mondeling nie.
  3. Dit kan leerders opdeel in groepe en jy kan dit stel dat spesifieke leerders nie in dieselfde groepe is nie.
  4. Dit het ‘n “noise meter” wat jy op die bord kan sit dat die leerders kan sien as hulle te raserig is
  5. Jy kan aanwysigings gee vir take
  6. Daar is ‘n “Think Pair Share” opsie waar leerders ‘n onderwerp kry wat hulle dan in groepe bespreek. 
  7. Daar is ‘n “Today” opsie waar jy elke dag belangrike aankondigings, ‘n verwelkomingsboodskap en die dag se werk kan plaas. 
  8. Daar is ook ‘n “music” opsie waar jy “Focus” of “Active” musiek kan speel tydens klaswerk.

Die derde skakel is “Class Story”. Dit is hier waar jy huiswerk kan plaas. Een voorbeeld waar hierdie skakel baie handig was, was op uitstappiedag. Ek kon elke nou-en-dan ‘n foto neem en hier plaas. Dit was vir die ouers baie spesiaal om te kan deel wees van hulle kinders se lewens. Jy kan ook video’s opsit of net boodskappe tik waar jy ouers herinner aan belangrike datums of huiswerk. 

As jy ClassDojo op jou rekenaar gebruik kan jy ook “files” aanheg in Class Story. Dit voel soms vir my asof ek dubbeld die hoeveelheid afskrifte moet maak as wat nodig is omdat leerders dit verloor. Ek stuur glad nie take soos mondeling of leestake huis toe nie. Ek heg die dokument aan en stuur die boodskap aan die ouers en laat die leerders die instruksies in hulle huiswerkboeke neerskryf. Sodoende spaar ek baie tyd en papier.

Wanneer briewe huis toe gestuur word, neem ek daarvan ‘n foto of heg net die file aan. Dit beteken die ouers weet om ‘n brief te verwag en indien die leerder dit verloor, print hulle net weer een van ClassDojo af. 

Die laaste skakel is waar jy boodskappe stuur. Dit is moontlik om aan al die leerders in die klas se ouers gelyk persoonlike boodskappe te stuur, jy kan ook individueel boodskappe stuur aan spesifieke ouers. Die boodskappe opsie is baie goed, veral as jy wag vir afskeurstrokies van sommige leerders in die klas, maar nie die hele klas nie. Jy kies dan doodeenvoudig die betrokke leerders, tik die boodskap en jy kontak die ouers direk sonder om kinders te “name and shame”. Ouers kan natuurlik ook vir jou ‘n persoonlike boodskap stuur vir watter rede okal. 

ClassDojo is een van baie toeps wat gebruik kan word om op die meer informele kommunikasie in ‘n proffessionele manier oor te dra. Die toep het sy tekortkominge. Soms wys my slimfoon nie as daar ‘n boodskap van ouers is nie en ongelukkig is daar altyd daardie een ouer wat nooit aansluit nie. Die ekonomiese welstand van ouers moet dit ook in ag geneem word ,omdat ouers data nodig sal hê om die boodskappe te ontvang en dit is nie altyd moontlik nie. 

Persoonlik is ek ‘n groot aanhanger van ClassDojo en ek sal enige iemand wat in die posisie is om dit te gebruik aanmoedig om dit te probeer. Dit is ook ‘n goeie opsie vir studente op Universiteite se Tutor-klasse en ook vir kleuterskole. 

Skakels om ClassDojo af te laai:

Google Play/Android

Apple App Store

Share This Post

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

You may use these HTML tags and attributes: <a href="" title=""> <abbr title=""> <acronym title=""> <b> <blockquote cite=""> <cite> <code> <del datetime=""> <em> <i> <q cite=""> <s> <strike> <strong>

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.